
Mens dink nog jy sien op of uit na iets, dan’s dit lankal verby en nes jy jou kan kry is daar nog ‘n berg of twee wat voorlê. Ons begin dan van voor af die bulte uitklim, wanneer ons oor ons skouer loer besef ons meteens dat daardie berg al klaar weer iets van die verlede is en bevind ons so onmiddelik weer voor die volgende… Sal ons ooit genoeg kry van dit wat ons daagliks laat opstaan, aangaan en van vooraf uitdaag? Daardie dryfkrag, die veer agter alles wat ons aanpak. Daardie doel wat in werklikheid eintlik blote misterie is… altyd was… altyd sal… wees…
Tyd is so relatief. Nog ‘n dag, ‘n week, ‘n maand snel verby maar ons kry dit nie reg om ons vinger op die pause-knoppie te plaas en die pas te verstadig van die sneltrein waarop ons is nie. Kan ons dit toeskryf aan die pas van die lewe? Die ritme van ‘n stad? Of is ons almal aspris besig om op ‘n drafstap by mekaar verby te leef en sodoende nie ons eie tekortkominge in die oog hoef te staar nie? Ek staaf: My selfoon lui die week, ek antwoord, maak ‘n afspraak vas. ‘n Dag later lui dit weer om die tyd en dag te bevestig. Die keer antwoord ek halfhartig want ek moet uitstel, ‘n nuwe datum voorstel en tot ‘n nuwe vergelyk kom. Toe begin die week hardloop… Die stoom blaas groot walms wit uit die sneltrein se uitlaatklep. My selfoon lui weer. Die dag het gekom… Ek het die afspraak misgeloop… Ek los die selfoon alleen om klaar te lui… Sien, ek het tekort gekom. Tyd het my laat kort skiet, tog nes ek my daaroor wil bekommer of selfs dink aan skuldig voel, neem die volgende groot gebeurtenis vorm aan en stuur my kop (gerieflik genoeg) in ‘n heel ander besige rigting.
Woerts warts heen en weer en skielik staan ons weer aan die einde van nog ‘n week en beplan ons alreeds vir volgende naweek. Ons is so besig maar ons kry niks gedoen nie. Want ons kan nie by een afspraak op ‘n slag hou nie. Ons dink: Môre sal die tyd reg wees om daardie een te tackle, om my kar te vat vir die ses wasse wat hy agter is. Vir daai vuilgoedsak om uitgegooi te word. Vir die agterstallige rekening om betaal te word. Vir die gras om gesny te word. Om vir siek familie in die hospitaal te gaan kuier. Die koei te melk en OEPS! Om die begrafnis by te woon. Intussen is die gat al toe gegooi en die koei se melk ‘n dik bebiesde botter.
Kies vir ‘n verandering om beheer te neem oor tyd. Maak dit jou eie. Laat dit by jou aanpas vir ‘n slag. Laat iets onbenulligs wag en stel dit wat regtig belangrik is eerste. Draai die uurglas om, nie sodat daar nog tyd kan uitloop nie, maar draai hom sommer op sy sy vir tyd en wyl… Want ons doen en doen maar kry niks gedoen nie, ons maak niks ordentlik klaar nie want die laaste ding wat ons dan het is tyd… Tyd sê dit alles: Kwantiteit. Maar wat kry ons regtig daaruit? Waar is die kwaliteit wat ons in ons hande moet vashou, kan aanraak en kan wegbêre om te beleef hoe ons iets tasbaar het om te wys.
Los die tyd laat dit aanhou uitloop, maar gryp die oomblik en maak dit geld. Daar’s ‘n potret teen my ouma se muur. Dit hang na sovele jare vandag steeds daar. Lank selfs voor my oupa se dood kyk ons dit reeds mis wanneer ons deur die sitkamer loop. Die woorde onaangeraak, it’s set in stone. En miskien is dit wat ek probeer sê:
“The clock of life is wound but once and no one has the power,
to tell just where the hands will stop… At late or early hour.
To lose one’s wealth is sad indeed, to lose one’s health is more,
To lose one’s soul is such a loss as no man can restore.
The present only is our own –
Live, love, toil with a will.
Place no faith in tomorrow,
for the clock may then be still.”
Volg Vreesloos Afrikaans